Onrustige tye

Chile was jare lank bekend as die mees stabiele land in Latyns-Amerika.  Veilig, met lae vlakke van korrupsie.  Met  beleggingsvriendelike regulasies en wette.

Gedurende die laaste veertig jaar, na die einde van ‘n moeilike era onder ‘n militêre diktatuur, het Chile baie vooruitgang gemaak.  Gemiddelde inkomste het gestyg.  Die land se infrastruktuur is opgebou tot een van die bestes in Suid Amerika.  Stede soos Santiago het ‘n moderne,  progressiewe atmosfeer gekry.

Maar alles was nie altyd so rooskleurig nie.  In ‘n land waar daar voorheen min verskil tussen arm en ryk was, het daar gedurende die afgelope paar jaar ‘n ernstige gaping ontstaan tussen die laer inkomsteklas en die elite. Politici het ook hulle eie salarisse drasties aangepas.  En in die proses het hulle hul konneksie met die man op straat verloor.

Tien dae gelede het die bom gebars:  Die staat het metrotrein tariewe met ‘n paar persent verhoog.  Maar dit was vir Santiago se meer as twee miljoen pendelaars wat daagliks per trein werk toe reis, die laaste strooi.   Geweld het uitgebreek.  Verskeie treine en stasies is aan die brand gesteek.

Binne twee dae was Santiago, met sy amper sewe miljoen inwoners, lamgelê.  Proteste het vlamgevat.  Op elke plein, in elke belangrike straat, was daar optogte.  Snags het vreedsame betogings ontaard in brandstigting, geweld en plundery.  Dit was onmoontlik vir mense om by die werk uit te kom.  Besighede het gesluit.  Skole is toegemaak en ouers moes tuis bly om hulle eiendomme te beskerm en om hulle kinders op te pas.

Die onruste het regoor die hele land versprei.  ‘n Landswye noodtoestand is afgekondig.  Aandklokreëls is ingestel.  Selfs in Santiago was niemand tussen agt uur saans en ses uur soggens op straat toegelaat nie.

Besighede het hulle vertoonvensters versper teen duisende plunderaars.

Na ‘n week se geweld het honderde supermarkte, banke en ander geboue nou al in die slag gebly.

Protes-aksies het toegeneem, todat 1.2 miljoen mense in Santiago saam aan ‘n betoging deelgeneem het.

Die regering probeer nou vinnig gebreekte verhoudinge herstel.  Daar sal hierdie week ‘n nuwe kabinet aangekondig word.  Die president se goedkeuringsvlak staan tans op 14%.

Niemand weet wanneer die geweld en wanorde sal eindig nie.  Dinge raak nou elke dag meer ingewikkeld:  Honderde duisende werkers wat uurliks betaal word, is nou al ‘n week lank sonder inkomste as gevolg van al die restaurante, hotelle en ander besighede wat steeds gesluit bly.  Wie weet tot watter mate mense hulle to plundery sal wend om aan die lewe te bly.

Een van die stede wat erg deur die geweld en plundery geraak word, is Valparaiso.  Die klokreël het die toerismebedryf oornag in duie laat stort.  Plunderaars het reeds dosyne besighede en geboue in puin gelê.

Ek was sommer nou die dag nog in Valparaiso vir ‘n wegbreeknaweek.  Die plek was stil en vreedsaam, met skepe wat in die baai aan anker lê.

Hopelik sal mense gou tot hulle sinne kom.  Hopelik sal die regering genoeg leierskap toon om die situasie te ontlont, voordat dinge nog erger raak.

 

 *      *      *

 

 

 

Leave a Reply

Fill in your details below or click an icon to log in:

WordPress.com Logo

You are commenting using your WordPress.com account. Log Out /  Change )

Google photo

You are commenting using your Google account. Log Out /  Change )

Twitter picture

You are commenting using your Twitter account. Log Out /  Change )

Facebook photo

You are commenting using your Facebook account. Log Out /  Change )

Connecting to %s