´n Koffieplekkie

Nie vêr van die stad af nie is daar ´n dorpie langs die see, met outydse houtraamhuise wat styf teenmekaar op die rante staan, almal met ´n uitsig oor die hawe.

Plaveiselstrate kronkel tussen die ou geboue teen die steiltes op.  Heelwat van die oorspronklike wonings is nou omskep in hotelle, of gastehuise vir meer kostebewuste reisigers.  En daar is restaurante, boetieke en kunsateljees waar mens kan kuier of sommer net rondsnuffel.

Wanneer ek ´n naweek hier spandeer, maak ek seker dat ek altyd weer by dieselfde plek ´n koffie gaan geniet.  By ´n tafel reg langs een van die houtraamvensters, met ´n uitsig oor die heuwels wat so volgepak van huise staan.

Daar is ´n hoed vir elke stoel.  Die idee is dat, wanneer gaste eers hulle hoedens opsit, geselskap sommer vinnig begin rigting kry.

DSC06809

DSC06797

Meeue sweef lawaaierig verby.  Wasgoed fladder aan lyne in die see se briesie.  Buite tokkel iemand ´n kitaar.

Daar is genoeg tyd vir ´n tweede koppie, bedien met varsgebakte appeltert.

DSC06813

 

 *      *      *

 

Leave a comment